Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive



SARL-NUUS - SONDAG 06 MAART 2011

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Let asseblief op: Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat die afsterwe van twee radio amateurs aangekondig moet word.

Die sleutel van Bernardus van Heerden, ZR3BVH, het op 20 Februarie 2011 stil geword. Ons betuig ons innige meegevoel aan sy familie en vriende.

Die sleutel van Dennis Shannon, ZS6JDS, het om 05:00 op 23 Februarie 2011 stil geword. Dennis was geruime tyd siek gewees. Ons betuig ons innige meegevoel aan sy vrou Carol, familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

DIE KSUT GAAN ’n SENDER VIR ’n VK-SATELLIET BOU

SARL-RAAD VERGADER HIERDIE WEEK

VK-RADIOAMATEUR, LID VAN RAYNET, VERKRY FONDSE VIR DIE BESTUDERING VAN DIGITALE EMCOMM-STELSELS VIR GEBRUIK IN ANDER DIENSTE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

DIE KSUT GAAN ’n SENDER VIR ’n VK-SATELLIET BOU

Die Kaap Skiereilandse Universiteit van Tegnologie (KSUT) KSUT genader is deur die VK uitgenooi om ’n S-band-sender te bou vir die eerste satelliet wat in Desember 2011 deur die VK se Ruimte-agentskap gelanseer gaan word. “UKubel” is ’n opwindende innoverende samewerking tussen die VK se Ruimteagentskap, industrie en akademici en word beskou as die voorloper van ’n volle VK-“CubeSat—program.

Die Universiteit van Strathclyde, wat die projek ko-ordineer, het KSUT genader om die sender te bou. ’n Soortgelyke eenheid word reeds deur KSUT vir sy eie 3U-CubeSat gebou.

Kan Suid-Afrika sy eie satellietslanseringsfasiliteit bou?

Naledi Pandor, die Minister van Wetenskap en Tegnologie, het tydens die SANSA-lansering gesê dat Suid-Afrika die satellietlanseringsfasiliteit, wat jare gelede vir die ‘Greensat”-projek gebou is, uit die motbolle gaan haal en dit gaan ontwikkel in ’n hedendaagse lanseringsfasiliteit. Dit is egter ’n langtermynprojek. Nou het ’n entrepreneur, Mark Comninos, ’n maatskappy, Marcom Aeronautics and Space, op die been gebring met die uitsluitlike doel om ’n tweestadium, opofferbare, lanseringstuig op die mark te bring, die "CHEETAH-1 CSLV". Die idee is om Suid-Afrika se afhanklikheid van buitelandse lanseringsdienste te verminder en lanseringsdienste aan die wêreldwye satellietindustrie te bied.

Mark sal een van die hoofsprekers by SA AMSAT se ruimtesimposium op 2 April 2011 by Vodaworld wees. Van die ander sprekers sal wees: Dr Sandile Malinga die HUB van SANSA en die twee leiers van SA AMSAT se Cubesatprojek, John Willescroft en Hannes Coetzee, sowel as Dr. L. J. du Toit van EMSS Antennas, die maatskappy wat verantwoordelik is vir die ontwikkeling, produksie, indiensstelling en fabrieksondersteuning van die KAT-7 ontvangers. Vir besonderhede en om te bespreek, besoek www.amsatsa.org.za. Maak gebruik van die korting aangebied vir vroeë bespreking. Spesiale tariewe geld ook vir lede van die SARL en SA AMSAT.

SARL-RAAD VERGADER HIERDIE WEEK

Die Raad van die SARL vergader hierdie week vir die jaarlikse strategiesessie om vir die jaar wat voorlê te beplan. Dit is die enigste keer dat raadslede van aangesig tot aangesig saamkom aangesien alle ander raadsvergaderings per telekonferensie plaasvind. Die resultate van die vergadering en planne vir die volgende jaar word as deel van die jaarverslag tydens die eerskomende AJV voorgelê. Dit sal ook aanlyn teen die tyd van die Algemene Jaarvergadering beskikbaar wees.

’n VK-RADIOAMATEUR, LID VAN RAYNET, VERKRY FONDSE VIR DIE BESTUDERING VAN DIGITALE EMCOMM-STELSELS VIR GEBRUIK IN ANDER DIENSTE

Aan ’n lid van die Verenigde Koninkryk se noodnetwerk van radioamateurs daar, RAYNET, is befondsing vir twee maande beskikbaar gestel om na te vors hoe daardie groep data ten beste kan gebruik om polisie- en ander dienste van hulp te wees.

Howard Winter, G1BYY, ’n lid van Mid-Herts RAYNET, het in November by die skema van Vodafone World of Difference aansoek gedoen. Volgens RSGB News sal Winter twee maande bestee aan sy eie ondersoek en eksperimentering en om data oor werk wat alreeds deur RAYNET-groepe gedoen is byeen te bring en ondervinding van lede wat met data ge-eksperimenteer het, te vergelyk. Hy sal dan dokumentasie opstel wat nasionaal aan groepe van alle affiliasies beskikbaar sal wees.

’n Stygende vraag van noodreaksiedienste wat van RAYNET gebruik maak om datakoppelings te voorsien, het daartoe gelei dat verskeie groepe met verskillende digitale datastelsels eksperimenteer. RAYNET-lede gebruik nou APRS om voertuie mee te volg wat in afgeleë gebiede op insidente reageer, foto’s van die plek van ’n noodgeval en datalêers na hulle beheersentrums versend.

BHF-AKTIWITEIT AAN DIE TOENEEM

Verskeie radioamateurs in en om Johannesburg en Kaapstad het begin om met ESB op 2 meter te eksperimenteer. Onlangs het hulle besluit om ook 144,200 MHz as landswye roepfrekwensie te gebruik. Hierdie frekwensie is al jare deur stasie in Afdelings 2 en 5 gebruik en baie kontakte is d.m.v. ESB bewerkstellig. Indien u slegs oor FM beskik, probeer dan 144,400 MHz, die FM-DX-kanaal. Baie langafstandkontakte is reeds op hierdie frekwensie behaal, van die ooskus van die RSA na Réunion eiland op beide FM en ESB en oorland van Richardsbaai na Port Elizabeth. Amateurs in Port Elizabeth moniteer hierdie FM-kanaal tussen 19:30 en 20:00 SAT vir stasies in Mosselbaai en Oos-Londen. Om 20:00 verander hulle frekwensie na 144,200 MHz ESB vir die langer afstande na Durban en vêrder aan.

Soortgelyk is daar ’n oplewing in die 6 m-band. ’n Hele aantal stasies het weer in Kaapstad, Johannesburg, Durban en Port Elizabeth aktief geraak met gebruik van 50,200 MHz ESB.

Om die beste resultate met BHF op lang afstande te behaal, moet van ongeveer 100 W en ’n horisontaal gepolariseerde Yagi-tipe antenna en ’n lae ruis voorversterker gebruik gemaak word.

KOMPETISIENUUS

Sondag 6 Maart 2011 – dit is vanmiddag – vind die SARL Hamnet 40 m Gesimuleerde Noodkommunikasiekompetisie plaas. Hierdie ESB-kompetisie is oop vir alle radioamateurs in Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Zimbabwe, Swaziland, Mosambiek, Lesotho, Marioneiland en Suid-Afrikaanse Antarktika. Slegs kontakte met hierdie gebiede sal tel. Die kompetisie is vanaf 12:00 tot 14:00 UTC op die lug met deelname as 'n enkeloperateur mobiel, enkeloperateur draagbaar, enkeloperateur basisstasie of 'n multi-operateur draagbaar.

Saterdag 12 Maart 2011 vind die SARL Maart Malligheid JD-naelloop plaas. Hierdie naelloop herdenk Internasionale Vrouedag op 8 Maart tussen radioamateurs in Suider Afrika. Roep "YL Sprint." Die naelloop is vanaf 09:00 tot 10:00 UTC op die lug en 'n RS-verslag en YL of OM word uitgeruil.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak middelmatig is. Nuwe sonvlekke is besig om hulle verskyning op verskeie plekke op die son te maak. Tans is sonvlek 1 164 in die Noorde en sonvlek 1 166 in die Ooste die grootste. 'n Nuwe sonvlek wat tussen hulle gevorm het is as sonvlek 1 167 gedoop. Die effektiewe sonvlektelling sal vandeesweek na verwagting ongeveer 65 wees.

15 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 20 m. Smiddae en tot na die son gesak het gaan die toestande na Indië goed wees. Smiddae gaan toestande eers op 15 m en dan later op 20 m na Europa toe goed wees. Kontakte met Australië is na sonsondergang op 20 m moontlik. Kontakte met die VSA is op 15 m gedurende die aand moontlik. 15 en veral 20 m-openinge na Brasilië en Suid-Amerika is smiddae moontlik. Met die goeie 15 en 20 m-openinge gaan 17 m vol verrassings wees. Met die verhoogde sonaktiwiteit kan 10 m gedurende die middel van die dag ook bydra tot die pret.

30 m kan vir die digitale en gelykgolfentoesiaste baie lonend wees met openinge na verskeie dele van die wêreld.

Plaaslik is 40 m die beste keuse met 20 en 30 m wat goeie kontakte oor die langer afstande kan oplewer. 80 m is op sy beste vroeg soggens en laat smiddae en ook oor korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

6 Maart – Vanmiddag, SARL-Hamnet 40 Meter Gesimuleerde Noodkompetisie vanaf 12:00 tot 14:00 UTC op die lug.
12 Maart - SARL Maart Malligheid JD-naelloop van 09:00 tot 10:00 UTC.
19 Maart - RTA, Kursus oor programmering in Windows in Kaapstad, besoek www.sarl.org.za om te bespreek.
25 Maart - SAiSAT Inligtingsessie by die NARS.
2 April - SA AMSAT se Ruimtesimposium by Vodaworld, bespreek nou by www.amsatsa.org.za.
15-16 April – SARL Nasionale Konvensie te Vaal Universiteit vir Tegnologie.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 22:05 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur George, ZS6NE, saamgestel is.

Dankie dat u saamgeluister het, 73.

/EX


======================= Message Ends =======================
To edit or remove your entry from this mailing list go to www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003